Jukskei Boek | Book

UITTREKSEL VAN JUKSKEIBOEK

HS Taljaard (2013)
JUKSKEIPARK IN KROONSTAD

Op 5 Julie 1951 stuur die stadsraad van Kroonstad hulle memorandum aan die Jukskeiraad met die volgende voorstelle:
  • vennootskap van 30 jaar;
  • 4½ morge grond oos van die wyksbondbane – waar huisvesting en bane aangebring kan word;
  • Stadsraad sal hoofleidings van krag en water en riolering voorsien op eie koste, terwyl die Jukskeiraad die gebruiklike aansluitingsgeld en instandhoudingsgeld betaal
  • Finansiering
    • SAJR verskaf die gebouemateriaal en die Stadsraad rig dit op, of;
    • die totale oprigtingskoste word om die helfte deur die twee partye gedeel, of,
    • hoé die finansiering gefinaliseer word, word aan die SAJR oorgelaat, met dien verstande dat hulle ten minste ‛n derde van die koste dra.
  • As vennote sal die skema beheer word, met verteenwoordiging in verhouding tot aandeel;
  • Beplanning en meubilering word oorgelaat aan die Jukskeiraad, wat moet inpas by die munisipale regulasies.

Die onderhoude met die stadsraad van Kroonstad was altyd openhartig, met wedersydse vertroue en in ‘n aangename gees. Op ‘n vergadering van die volle dagbestuur op 11 Augustus 1951 word beide memoranda bespreek en dié van Kroonstad in beginsel aanvaar. Sekere punte, soos ‘n 99-jaar ooreenkoms en ‘n derde kapitaalstorting deur die SAJR moes deur die voorsitter (N. Reinach) en die sekretaris (D. Kruger) uitgeklaar word. Nou was genoegsaam fondse die enigste struikelblok.

In ‘n onderhoud met United Tobacco Company is fondse gevra vir die sentralisasie en word ‘n bedrag van £2 500 geskenk, betaalbaar in vyf jaarlikse paaiemente. Dit was ‘n groot hupstoot vir die sentralisasiegedagte.

Op 5 September 1952 word ‘n persoonlike skrywe van Sy Edele die Administrateur, mnr. Jim Fouche, ontvang, waarin gesê word dat die “aansoek heroorweeg is in die lig van die houding van die Tesourie” en dat die verlangde toestemming verleen word vir die projek. Danksy persoonlike bemoeiing van Norman Reinach kon alles aangaan! Dadelik word daar gewoel en gewerk, want die bane en ‘n paar hutte moes klaarkom vir die 1953-toernooi.

BOUWERK BEGIN OP JUKSKEIPARK
Daar is begin om wooneenhede op Jukskeipark te bou en op 27 Maart 1954 word die klubgebou en ‘n paar van die woninkies amptelik in gebruik geneem. Die terrein het aanvanklik net uit 3 blokke jukskeibane bestaan maar is later uitgebrei na 4 blokke (sien foto hieronder).

Die Jukskeiboek :
Jukskei Vonkelsport 1732 – 2000
Deur HS Taljaard
Is beskikbaar by jukskei@jukskeisa.co.za @ R200